Elma Kloppers
Die genoteerde Paramount Property Fund (Paraprop) se voorgestelde bemagtigingstransaksie met die Mvelaphanda-groep (Mvela), is Vrydag in sy spore gestuit deur invloedryke aandeelhouers.
Dié stap kan deel uitmaak van 'n breër prentjie, wat verdere konsolidasie in die eiendomsektor sal aanwakker.
Bespiegelings in die eiendomsmark is dat die genoteerde eiendomsmaatskappy Redefine, met 'n belang van 22% in Paraprop, die bemagtigingstransaksie teenstaan omdat hy sy oog op die maatskappy het as 'n oorname-teiken.
Die beplande bemagtigingstransaksie sou Paraprop van bemagtigingsaandeelhouding voorsien deur 'n spesifieke uitreiking van aandele vir kontant en ook sy uitgereikte aandelekapitaal verhoog. Die toename in sy aandelekapitaal van 250?miljoen koppeleenhede tot 500?miljoen koppeleenhede en die skepping van 80?miljoen omskepbare voorkeuraandele, was 'n voorvereiste vir die bemagtigingstransaksie met Mvela.
Hoewel die meeste van die aandeelhouers teenwoordig op die vergadering die transaksie ondersteun het, kon die goedkeuring van die vereiste 75% van aandeelhouers, soos bepaal deur die Maatskappyewet, nie verkry word nie. Dit kom voor asof die aandeelhouers wat deur volmag gestem het, grootliks daarteen was.
Uit die totaal van 77,4% eenheidshouers wat óf teenwoordig was óf deur volmag gestem het, het 67,35% ten gunste van die transaksie gestem, 32% daarteen en 0,65% het buite stemming gebly.
Paraprop het intussen in 'n verklaring op die JSE se elektroniese nuusdiens (Sens) gesê die maatskappy het die voorstelle met groot sorg ontwerp om te verseker dat die langtermyn-belange van Paraprop en sy aandeelhouers in ag geneem word. Volgens gerugte was daar egter kommer in die mark dat die bemagtigingstransaksie bestaande aandeelhouers se belange kon verwater.
Die genoteerde eiendomsektor staan aan die vooraand van 'n verdere konsolidasie-proses en dis nou "vreet of word gevreet"-tyd, sê mnr. Arnold Meyer van die eiendomsdienstegroep Broll. Hy verwag beduidende korporatiewe bedrywighede tussen nou en Desember en reken kleiner maatskappye loop die gevaar om deur die grotes ingesluk te word.
Mnr. Mike Flax, uitvoerende hoof van Spearhead Property, beaam die siening en voorsien in die toekoms twee tot drie maatskappye so groot soos Growthpoint, die grootste genoteerde eiendomsgroep op die JSE met 'n markkapitalisasie van R11,9?miljard.
"Daar mag selfs 'n paar eiendomsmaatskappye in die top 40-indeks ingesluit word."
Hy sê die onlangse notering van Madison, die eerste eiendomsbatebestuursmaatskappy om te noteer, gaan die speelveld verander en heelwat aksie sal deur die Madison-stal gedryf word.
'n Hele paar eiendomsmaatskappye het onlangs omsigtigheidsaankondigings op Sens gedoen, wat daarop dui dat hulle besig is met onderhandelings wat 'n uitwerking kan hê op die prys waarteen hul eenhede verhandel. Onder hulle tel Ambit, Spearhead en Redefine.
Publisher: SakeBeeld
Source: SakeBeeld

