Richardsbaai groei vir beker

Posted On Wednesday, 14 June 2006 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
Die kusdorp Richardsbaai in KwaZulu-Natal (KZN) ervaar ongekende groei. Dit skep beduidende moontlikhede vir die uitbreiding van sy kleinhandelgeriewe.

Elma Kloppers

Die kusdorp Richardsbaai in KwaZulu-Natal (KZN) ervaar ongekende groei. Dit skep beduidende moontlikhede vir die uitbreiding van sy kleinhandelgeriewe.

In die lig daarvan gaan die Boardwalk-inkopiesentrum in Richardsbaai se sentrale sake-distrik ’n splinternuwe baadjie aantrek en teen R40 miljoen opgegradeer en uitgebrei word.

Daar word ook onderhandel om die sentrum se naam na die Inkwazi Mall te verander.

Dié sentrum is deel van ’n portefeulje eiendomme wat deur die genoteerde eiendomsmaatskappy Siyathenga van die Transnet Retirement Funds Property Trust gekoop is.

Die toekomsvooruitsigte vir Richardsbaai lyk blink en groei in die kusdorp word grootliks gedryf deur verskeie nywerheidsontwikkelings, onder meer die Tata-staalaanleg, die Unlimited Pulp-aanleg en die beplande opgradering van die hawe se hanteringsgeriewe teen sowat R10 miljard binne die volgende tien jaar. Verskeie residensiële ontwikkelings, waaronder ’n gholf-landgoed met sowat 300 huise, 600 wooneenhede in die sentrale sake-distrik en 600 laekoste-huiseenhede, is in aanbou met nog 200 nuwe huise in die vooruitsig.

Die tender vir die uitgebreide opgradering is aan Keystone Investments toegeken.Volgens mnr. Tienie Lindeque, uitvoerende direkteur van Keystone, toon omvattende navorsing dat daar ’n reuse-aptyt na inkopiesentrums in die dorp is. Hoewel daar verskeie gerieflikheidsentrums is, is die naaste streeksentrum in Empangeni.

“Kleinhandelgeriewe in Richardsbaai kort gehalte-winkels, in so ’n mate dat 73% van die inwoners hulle na Gateway in Umhlanga wend vir vermaaklikheidsgeriewe en 30% vir modewinkels,” sê hy.

Die Boardwalk-sentrum lok maandeliks sowat 1,2 miljoen inkopiegangers en die opgradering en uitbreiding, wat 33 000 m² tot die bestaande 28 000 m² sal voeg, sal die getal besoekers beduidend opstoot. Ná die opgradering sal die sentrum onder die land se top-12 winkelsentrums wees wat grootte betref.

Onder die nuwe huurders tel Game, The Hub, Identity, Checkers en Stuttafords. Die huidige ankerhuurders is Edgars, Pick ’n Pay en Woolworths wat sy winkelspasie gaan verdriedubbel.

Mnr. Herman Pretorius, argitek van BAU Design, wat verantwoordelik is vir die nuwe ontwerp, sê die groot uitdaging vir die opgradering is om die bestaande struktuur te vernuwe en dit ’n vars voorkoms te gee. “Die dae van tema-winkelsentrums is iets van die verlede en vandag is ’n tydlose argitektoniese ontwerp en ’n meer minimalistiese styl aan die orde van die dag.”

Die opknapping van die sentrum sal op 3 Julie begin.


Publisher: SakeBeeld
Source: SakeBeeld

Please publish modules in offcanvas position.