Doebai-ontwikkeling kry goud

Posted On Thursday, 25 May 2006 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
’n Internasionale eiendomsontwikkeling het vanjaar met die louere weggestap op die onlangse 2006-toekennings van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Eiendomseienaars (Veesa) vir innoverende prestasie in eiendomsontwikkeling.

Elma Kloppers

’n Internasionale eiendomsontwikkeling het vanjaar met die louere weggestap op die onlangse 2006-toekennings van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Eiendomseienaars (Veesa) vir innoverende prestasie in eiendomsontwikkeling.

Die Madinat Jumeirah, ’n luukse oord in Doebai, is as Veesa se oorhoofse wenner bekroon, asook die wenner in die kategorie vir internasionale ontwikkelings.

Mnr. John Truter, voorsitter van die Veesa-toekenningskomitee, sê daar was niks wat met die ontwikkeling kon meeding nie. Dit val eenvoudig in ’n ander klas, een van wêreldgehalte.

Dit is vir die Doebaise koninklike familie deur Mirage Mille ontwikkel.

Hy sê hoewel Veesa sensitief is vir die feit dat ontwikkelings visueel aantreklik moet wees, is toekennings nie net gegrond op argitektoniese aantreklikheid nie, maar ook op ekonomiese lewensvatbaarheid. Verder moet dit aan die behoeftes van die belegger en die gebruiker voldoen en die omgewing waarin hulle is, ophef.

In die kategorie vir residensiële ontwikkelings is The Island Club, Rabie Properties se luukse 445-eenheidontwikkeling in Century City, as die wenner aangewys. Dié ontwikkeling van R450 miljoen was die eerste projek om ’n residensiële leefstyl in Century City te vestig en is gevolg deur nog vier suksesprojekte.

In die kategorie vir kantoorontwikkelings het die dti-kampus in Pretoria skoonskip gemaak. Truter sê die sterk punt van dié projek was dat dit ’n stewige anker is om die hele gebied vir ontwikkeling te ontsluit.

Die toekenning vir beste kleinhandelontwikkeling is opgeraap deur die Vangate Mall in Athlone in die Wes-Kaap. Truter sê dié ontwikkeling het punte gekry omdat dit ontwikkel is in samewerking met die gemeenskap, wat tot grootskeepse opheffing gelei het.

Discovery House, ’n kantoorgebou in die hartjie van Sandton, is as die beste opgradering aangewys. Hy sê in dié geval is verskeie geboue handomkeer omgeskep in ’n uiters sigbare bate.

In die kategorie vir ontwikkelings wat ’n maatskaplike uitwerking het, is die Zinyosini- sekondêre skool in die Oos-Kaap bekroon. Volgens Truter is dit die eerste keer dat die toekenning aan ’n skool toegewys is.

“Vanjaar se toekennings is gekenmerk deur ’n geweldige reaksie uit die mark, wat grootliks toegeskryf kan word aan ’n uiters lewendigeeiendomsektor.”


Publisher: SakeBeeld
Source: SakeBeeld

Please publish modules in offcanvas position.