Miljarde word belê in genoteerde eiendom

Posted On Monday, 31 October 2005 02:00 Published by eProp Commercial Property News
Rate this item
(0 votes)

Kommersiële eiendom in die buiteland bied veel groener weivelde aan internasionale eiendomsbeleggers.

Property-Housing-ResidentialVolgens mnr. Wylie Greig, senior adviseur van die Investment Property Databank (IPD) in die VSA, neem buitelandse beleggings in genoteerde en ongenoteerde eiendom sterk toe.

Greig, een van die sprekers op die derde jaarlikse eiendomsbeleggingskonferensie van die IPD en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Eiendomseienaars (Veesa) in Sandton verlede week, skryf dié neiging toe aan pogings van beleggers om groter opbrengste te verkry.

Eiendomsbeleggings in die VSA, Europa en die Asiaties-Pasifiese streek het in 2004 sowat $400 miljard beloop, waarvan $190 miljard in die VSA belê is, $160 miljard in Europa en $50 miljard in Asië. Amerikaanse beleggers is oortuig daarvan dat Amerikaanse eiendom volgeprys is en fokus meer op die buiteland, sê hy. Die globale poel eiendom om in te belê, is enorm, met eiendom van tussen $5 biljoen ($5 000 000 000 000 000) tot $6 biljoen, wat hoofsaaklik in Noord- Amerika en Europa is.

Van die kapitaal wat in VSA-eiendom gestoot word, is 40% uit Duitsland, terwyl Australië met 19% 'n nuwe fenomeen is. Hy noem dat die beleggers in die mees likiede markte belê, wat hoëgehalte-eiendom behels. Australiërs hou van stede wat maklik herkenbaar is in hul tuisland, asook stede wat hulle gereeld besoek. Kantooreiendom lok die leeue-aandeel, met kleinhandeleiendom in die tweede plek.

Sowat 32% van die beleggings in Europese eiendomsmarkte is afkomstig uit die VSA en tussen 2000 en 2005 is sowat $224,5 miljard belê. Die likiede Britse mark lok die meeste beleggings, met kantooreiendom die gunsteling en kleinhandel- en leefstylontwikkelings in die tweede plek.

Greig sê die Asiaties-Pasifiese streek is aantreklik vir diverse beleggers en in 2004 is $11,5 miljard daar ingestoot. Hiervan was 44% uit die VSA en 20% uit Australië. Asië se stewige ekonomiese groei is veral aantreklik vir buitelandse beleggers, wat ook belê in Tokio, Singapoer, Shanghai en Beijing.

Wat die toekoms betref, voorsien hy 'n toename in beleggings in fondse teenoor regstreekse beleggings in eiendom. Hy beskou genoteerde maatskappye as die maklike weg vir buitelandse beleggers en veral diegene wat hul eerste tree in die buiteland gee. "Dis maklik om in te klim en net so maklik om uit te klim."

Hy beskryf die vertoning van Suid- Afrikaanse genoteerde eiendom as uitstekend, maar beklemtoon dat dit 'n klein mark is. Institusionele beleggers uit die buiteland het al hul voelers begin uitsteek na die genoteerde sektor in Suid-Afrika, maar geen tjekboek het nog sy verskyning gemaak nie.

Sedert 1999 het die markkapitalisasie van die genoteerde eiendomsektor in Suid-Afrika van R5 miljard toegeneem tot R51 miljard.

Mnr. Leon Allison, eiendomsontleder van First South Securities, skryf die gebrek aan buitelandse belangstelling in die Suid-Afrikaanse eiendomsektor toe aan suiwer die grootte en verhandelbaarheid van die sektor. Hy sê daar is nie genoeg likiditeit in die mark vir buitelandse beleggers nie.

Suid-Afrikaanse beleggers belê grootliks in Liberty International, een van die grootste Britse eiendomsgroepe, wat in Londen sowel as op die JSE genoteer is. Sowat 40% van Liberty International se aandeelhouers is Suid-Afrikaners.



Last modified on Monday, 05 May 2014 10:18

Please publish modules in offcanvas position.