VN skuld gebou-eienaar in Pretoria duisende

Posted On Tuesday, 30 August 2005 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
'n Gebou-eienaar in die middestad van Pretoria sit met die hande in die hare oor agterstallige huurgeld van R38 565,49 vir een van sy kantoorgeboue.

Elma Kloppers

'n Gebou-eienaar in die middestad van Pretoria sit met die hande in die hare oor agterstallige huurgeld van R38 565,49 vir een van sy kantoorgeboue.

Dit klink dalk nie na 'n aardskuddende bedrag nie, maar die sondaar is die Verenigde Nasies (VN).

Boonop blyk alle pogings deur die eienaar van die gebou, C-Max Investments, om die kwessie vriendskaplik op te los , onsuksesvol te wees, omdat die VN immuniteit teen regstappe geniet.

Volgens C-Max Investments het die VN die huurooreenkoms verbreek deur die perseel te ontruim voordat die huurkon trak verstryk het, sonder om die huur vir die volle tydperk te betaal.

Om dié rede het hy by monde van sy regsadviseurs, die prokureursfirma Louw & Heyl, besluit om die VN se praktyk openbaar te maak.

Op 12 Julie 2001 het die United Nations Development Programme (UNDP) 'n huurooreenkoms gesluit vir die huur van kantoorruimte op die 16de verdieping van die Sanlamsentrum in Andriesstraat.

Volgens me. Jonet Bezuidenhout, vennoot van Louw & Heyl, was die ooreenkoms 'n tweede huurooreenkoms vir 'n nuwe tydperk van 1 Julie 2001 tot 30 Junie 2004, aangesien die eerste huurooreenkoms verstryk het.

Die UNDP het die gebou betrek en die huur is betaal tot Maart 2003, waarna geen betaling ontvang is nie. Die UNDP het intussen die gebou ontruim sonder enige kennisgewing en sonder dat die ooreenkoms gekanselleer is.

Gedurende Julie 2004 het C-Max mnre. Michael Gwabeni en Lucas Thlagale van die finansiële afdeling van die UNDP genader, maar hulle het dit duidelik gestel dat die bepalings van die huurooreenkoms nie nagekom sal word nie.

Gwabeni het na bewering gesê daar kan nie regstappe teen die UNDP gedoen word nie weens sy immuniteit. Hy het verder te kenne gegee dat die UNDP die Pretoriase middestad, en spesifiek dié gebou, onveilig geag het.

Nadat Louw & Heyl probeer het om met dr. Scholastica Kimaryo, nuwe uitvoerende hoof van die UNDP, in aanraking te kom, het haar persoonlike assistent versoek dat 'n skrywe aan haar gerig word. Op die skrywe, wat in Sake se besit is, is geen reaksie ontvang nie.

Bezuidenhout sê haar kliënt se hande is nou gebind. Tensy die VN sy samewerking gee, kan niks aan die saak gedoen word nie.

C-Max Investments vind dié optrede van die UNDP onaanvaarbaar. Ironies genoeg is dié organisasie die VN se globale ontwikkelingsnetwerk wat op verandering gemik is en ontwikkelende lande help om 'n nuwe lewe te bou. Sy begroting beloop etlike miljoene dollar.


Publisher: Sake Beeld
Source: Sake Beeld

Please publish modules in offcanvas position.