Elma Kloppers
Die hoë mislukkingsyfer in die kleinsakesektor in Suid-Afrika kan deur die totstandkoming van netwerk-ontwikkelings ("clusters") verminder word.
Netwerk-ontwikkelings is geografiese konsentrasies van maatskappye, diensteverskaffers en verwante instellings in spesifieke sektore wat op mekaar aangewese is.
Dr. Hischam El-Agamy, direkteur van korporatiewe ontwikkeling van die Internasionale Instituut vir Bestuursontwikkeling (IMD) in Lausanne, Switzerland, beskou dit as 'n aantreklike strategie vir ekonomiese ontwikkeling.
"Dit moedig die ontstaan van nuwe maatskappye, produkte en werkgeleenthede aan en is 'n mededingingsinstrument wat klein en swartbemagtigingsondernemings se oorlewingsvermoë sal vergroot," sê hy.
El-Agamy het onlangs in Suid-Afrika die Vereniging van Eiendomseienaars (Veesa) se 37ste jaarlikse eiendomskongres toegespreek oor Suid-Afrika se globale mededinging.
In 'n onderhoud met Sake het hy die voordele van netwerk-ontwikkelings uitgelig wat hoog op die agenda van die regering, maatskappye en ander instellings behoort te wees. Nie net lei dit tot 'n toename in regstreekse buitelandse investering nie, maar dit is ook 'n "fantastiese werkskeppingsgeleentheid", sê hy.
Netwerk-ontwikkelings het elders in die wêreld groot sukses behaal, veral in Noorweë, waar 'n maritieme netwerk-ontwikkeling geskep is. Die unieke konglomerasie van skeeps- en vervaardigingsondernemers en diensteverskaffers het die afgelope 20 jaar van krag tot krag gegaan.
Die ontwikkeling se wenformule word beskou as die samewerking tussen rolspelers, wat dienste van wêreldgehalte en 'n breë reeks dienste en produkte lewer.
In Kalifornië in die VSA, sowel as in Frankryk, Italië en Chili, is wynnetwerke tot stand gebring wat bestaan uit groepe wynmakers, verskaffers en ander wynverwante-instellings, wat hul land se mededingende voordeel beduidend verhoog het.
El-Agamy glo die Suid-Afrikaanse ekonomiese landskap met sy entrepreneurskultuur leen hom perfek toe tot die konsep. Hoewel 'n paar informele netwerke al op die toneel verskyn het, is dit nodig om hulle te formaliseer om volhoubaarheid te verseker en die nodige investering te lok.
Een van die sektore waarvoor hy 'n netwerk-ontwikkeling aanbeveel, is die nywerheid- en vervaardigingsektor. Volgens die IMD se nuutse mededingingsyfers is Suid-Afrika tweede op die wêreldranglys wat energielewering betref. Só 'n ontwikkeling sal dus relatief goedkoop bedryf kan word.
Daar is reeds nywerheidsparke landwyd wat in netwerkontwikkelings omgeskep kan word.
Die konstruksiesektor is ook 'n kandidaat, veral in die lig van die infrastruktuurontwikkelings met die oog op die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010.
El-Agamy beklemtoon dat dit belangrik is om 'n regeringsliggaam te betrek vir beleidsvorming en prosedures. Dit is noodsaaklik dat kernrolspelers die nodige veranderings en verbeterings ondersoek om die ontwikkelings te fasiliteer en dan 'n strategie te formuleer wat die bedryf, die regering en opvoedkundige instellings insluit, sê hy.
Die voordele van netwerk-ontwikkelings vir swartbemagtigingsmaatskappye is dat dit die oordrag van vaardighede bevorder en dié maatskappye toegang tot die sakesektor sal bied. Deur sake te doen met groot maatskappye, kan klein en middelslag-ondernemings floreer.
El-Agamy glo die filosofie agter die konsep is dat groot en klein ondernemings in soortgelyke bedrywe beter kan presteer as wat hulle individueel sou doen.
Hy reken nog 'n uitmuntende geleentheid is die motorbedryf in Port Elizabeth, waar al die onderliggende motorbedrywighede in een netwerk-ontwikkeling saamgesnoer kan word.
Die gebied word gekenmerk deur 'n hoë werkloosheidsyfer en gepaardgaande armoede, wat verlig sal word deur só 'n ontwikkeling. Die voordeel is boonop dat die nodige infrastruktuur reeds daar is, sê hy.
Volgens El-Agamy moet netwerke deel vorm van elke ontwikkelende land se ekonomiese landskap. Wêreldwyd word entrepreneurskap en die ontwikkeling van klein sake-ondernemings beskou as die enjin van ekonomiese groei waarsonder ekonomieë sal stagneer, werkloosheid sal toeneem en algemene lewenstandaarde sal afneem.
Die konsep van netwerk-ontwikkelings het gewild geraak nadat Michael E. Porter, professor aan die Bishop Lawrence-universiteit in die vroeë negentigs, in sy boek Competitive Advantages of Nations daaroor geskryf het. Hy reken die mededingendheid van 'n land kan vergroot word as sy onderlinge bedrywe deur netwerke gesteun word.
Publisher: Sake Beeld
Source: Sake Beeld

