Melrose Arch uiteindelik verkoop

Posted On Monday, 14 June 2004 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
Kry nuwe eienaar in grootste eiendomstransaksie nóg in SA


Elma Kloppers

Die gesogte Melrose Arch-leefstylkompleks is uiteindelik verkoop - vir R1,27 miljard, wat dit die grootste kommersiële eiendomstransaksie nóg in Suid-Afrika maak.

Die transaksie is gister beklink nadat die Mededingingskommissie dit goedgekeur het.
Die transaksie onttroon die Kaapse Canal Walk-winkelsentrum wat verlede jaar vir R1,16 miljard van eienaar verwissel het as die grootste nóg.

Melrose Arch se nuwe eienaar heet Melrose Arch Holdings (MAH) en hy het die gesogte Johannesburgse werk-, woon- en kuierplek van die Sentinel-mynbedryf-aftreefonds gekoop. MAH word verteenwoordig deur verskeie familie-trusts, asook buitelandse beleggers.

In 'n eksklusiewe onderhoud met Sake het mnr. Colin Barnard, besturende direkteur van MAH, die sluier gelig oor hoekom die bod aan sy maatskappy toegestaan is te midde van sterk mededinging van ander eiendomsgroepe.

Hy sê dit is vir mnr. Eric Visser, uitvoerende hoof van Sentinel, belangrik dat al die fases van Melrose Arch voltooi word sodat die ontwikkeling tot sy volle reg kan kom.

"MAH se aandeelhouers is bereid om op lang termyn hul kapitaal terug te kry en het ooreengekom op 'n opbrengs van 5% oor vyf jaar."

Daarby was die aanbod ook beduidend hoër as dié van die ander bieërs op die kortlys, die genoteerde eiendomseffektetrustmaatskappy Sycom en die private eiendomsontwikkelaar Cavaleros.

Die koopsom sluit in 87 000 m² wat reeds ontwikkel is en sowat 250 000 m² ontwikkelbare grond. Hiervan is 40 000 m² geoormerk vir kleinhandel, 150 000 m² vir kantoorruimte en 60 000 m² vir verdere residensiële projekte.

Die Pam Golding Eiendomsgroep behartig tans die residensiële verkope en sal voortgaan daarmee, terwyl die kommersiële sektor deur Investec Properties bestuur word. Dit sluit die Melrose Arch-hotel in, wat 'n bestuurskontrak met Sentinel het.

Barnard sê hy het blink planne vir die toekoms van die speelplek van die rykes. Die eerste prioriteit op sy sakelys is om die ontwikkeling te herposisioneer as die modemekka van Johannesburg.

Hy meen Melrose Arch is die perfekte afsetpunt vir 'n mode-distrik, waar internasionale modegroepe die nuutse modes kan vertoon. Suid-Afrika was lank genoeg die stiefkind wat modes betref en om te wys dat hy ernstig is, het Barnard reeds 'n groot modevertoning in die kompleks gereël in samewerking met die modetydskrif Elle en die Franse ambassade. Dié uithang-geleentheid word op 22 en 23 Junie op Melrose Arch se plein gehou.

Die plein, wat die sosiale spilpunt van die ontwikkeling is, gaan binnekort die plein van beroemdes word, wanneer Suid-Afrikaners wat 'n uitstaande bydrae tot die ontwikkeling van die land gelewer het, die geleentheid gaan kry om afdrukke van hul hande in sement te verewig. Barnard sê mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, sal eerste aan die beurt kom.

Voorts is daar ook gesprekke aan die gang met van die wêreld se voorste motorvervaardigers, onder meer Mercedes-Benz, Ferrari, Bentley, Aston Martin en Maybach, om handelaarskappe in die kompleks te vestig.

Barnard gaan ook nie die korporatiefmaatskaplike aspek agterweë laat nie. Vir elke wooneenheid wat in Melrose Arch verkoop word, gaan een huis vir histories benadeelde gemeenskappe gebou word.

 

Elma Kloppers
Sake Beeld
(011) 713-9292
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 


Publisher: Sake Beeld
Source: Sake Beeld

eProperty News is a leading online commercial property marketplace serving the Southern African Investment, Office, Retail and Industrial property and allied sectors.

Properties

Please publish modules in offcanvas position.