Kompliment vir SA R7 mjd werd

Posted On Thursday, 28 September 2006 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
In ’n reuse-mosie van vertroue in Suid-Afrika en sy ekonomie is 100% van die V&A Waterfront in Kaapstad deur die L&R Consortium vir R7,04 miljard (sowat $950 miljoen) kontant verkry.

In ’n reuse-mosie van vertroue in Suid-Afrika en sy ekonomie is 100% van die V&A Waterfront in Kaapstad deur die L&R Consortium vir R7,04 miljard (sowat $950 miljoen) kontant verkry.

Dié konsortium, bestaande uit die swaargewig Britse London & Regional-groep met ’n belang van 50,1%, die beleggingsgroep Istithmar uit Doebai (24,8%) en ’n groep bemagtigingsvennote met ’n gesamentlike belang van 23,1%, het Kaapstad se voorste toeriste-attraksie voor die neuse van nege ander bieërs opgeraap.

Verdere eienaarskap van 2,0% in die konsortium sal eenkant gehou word in ’n trust vir swart werkers van die V&A Waterfront.

Die grootste bemagtigingsbelang van 12,7% is deur die bemagtigingsfirma Decorum verkry en onder die ander aandeelhouers tel die Western Cape Women’s Investment Alliance (Wecwia) met 6,0% en verskeie entrepreneurs, onder andere dr. Vincent Maphai, mnre. Jabu Mabuza, Derrick Rosslind en Hassen Adams.

Dié transaksie volg nadat Transnet met ’n belang van 26% in die Waterfront en sy drie pensioenfondse – die Transnet-pensioenfonds (7,8%), die Transnet- Tweede Vastevoordeelfonds (43,6%) en die Transnet-aftreefonds (22,6%) – in Mei aangekondig het dat tussen 74% en 100% van die totale aandelekapitaal in V&A Waterfront Holdings aan die hoogste bieër verkoop sal word. Die Transnet-aftreefonds, wat die opsie gehad het om sy 22,6%-belang te behou, of dit tot 26% te vergroot, het ook besluit om sy belang van die hand te sit.

Dié transaksie is deel van Transnet se strategie om nie-kern-bates van die hand te sit in ’n poging om ’n gefokusde spoor- en logistieke groep te word om die regering te help om sy ekonomiese-groei-teiken van 6% teen 2010 te bereik.

Mnr. Bulelani Ngcuka, voorsitter van die V&A-direksie, is veral beïndruk deur die nuwe eienaar se besluit om die werkers van die V&A Waterfront vir minstens twee jaar te behou én met die bemagtigingsdeelname wat van kernbelang in die ekonomie se hervorming is.

Mnr. Richard Livingston, direkteur van London & Regional, beskryf die verkryging as een wat alles het wat die maatskappy in ’n belegging verlang, ’n stewige balansstaat, ’n suksesvolle bestuurspan en die belangrikste – geleenthede.

Istithmar is die beleggingskomponent van Dubai World, wat ’n portefeulje ondernemings en projekte met ’n ondernemingswaarde van meer as $6 miljard namens die Doebai-regering bestuur.

Mnr. Mahmoud Saleh, hoofsekretaris van Dubai World, sê die groep was gretig om ’n teenwoordigheid in Suid-Afrika, spesifiek Kaapstad, te verkry. Hy beskou die belegging in die “wonderlike kunswerk” as die platform vir ander beleggings in die land en glo dit sal ’n positiewe boodskap uitstuur aan die globale beleggingsgemeenskap.

Mnr. James Wilson, uitvoerende hoof van Nakheel, een van die maatskappye onder die bestuur van Dubai World, sê dit is hulle visie om die ontwikkeling ’n stap verder te neem en die wêreld se voorste oordbestemming, ’n inkopie-, ontspanning- en sake-riviera te skep as ’n fokuspunt vir die komende Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010.

Die 45% wat nog ontwikkel kan word, sal ’n gehalte-laedigtheidsontwikkeling wees, sê hy.


Publisher: Boodskap
Source: Elma Kloppers

eProperty News is a leading online commercial property marketplace serving the Southern African Investment, Office, Retail and Industrial property and allied sectors.

Properties

Please publish modules in offcanvas position.