Gauteng se ekonomie 'gaan nou konsolideer'

Posted On Friday, 23 June 2006 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
Gauteng se ekonomie staan aan die vooraand van 'n konsolidasieproses ná beduidende groei en ontwikkeling in die provinsie sedert 2002.

Elma Kloppers

Gauteng se ekonomie staan aan die vooraand van 'n konsolidasieproses ná beduidende groei en ontwikkeling in die provinsie sedert 2002.

Dit is een van die bevindings van die Gauteng Business Barometer (GBB), die eerste indeks wat ekonomiese bedrywighede in die provinsie maandeliks met 'n valkoog gaan dophou.

Dié barometer, 'n inisiatief van Gauteng Business in samewerking met Standard Bank en mnr. Mike Schüssler, ekonoom van T-Sec, werp lig op die vertoning van verskeie subsektore en sluit ook 'n ekonomiese stres-indeks in wat die uitwerking van inflasie en rentekoerse op ekonomiese bedrywighede meet.

Die barometer is gegrond op 19 stelle data wat dateer van 2002. Dit verskaf 'n deursnitopname van 'n individuele bedryf, maar gesamentlik skets dit 'n akkurate prentjie van die pols van Suid-Afrika se ekonomiese spilpunt.

Onder die bedrywe wat gemonitor sal word, tel mynbou, die boubedryf, vervaardiging, finansiële-, eiendoms- en ondernemingsdienste en vervoer.

Die GBB vir Meimaand toon dat die barometer met 3,8% gedaal het tot 149 indekspunte teenoor April en 5,4% laer was teenoor die hoogtepunt van 158 punte in Februarie. Dit is nietemin 9% beter as in Mei verlede jaar.

Mnr. Goolam Ballim, hoofekonoom van Standard Bank, skryf die dalende neiging toe aan 'n afname in verbruikersbesteding teenoor histories bogemiddelde vlakke. "Dit is 'n natuurlike verlies van momentum van die uitbundige vlakke die afgelope twee jaar en sal ekonomiese groei vanjaar waarskynlik met 'n halwe tot een persentasiepunt verlaag," sê hy.

Schüssler beskou die boubedryf as die onbestendigste in Gauteng. Hy sê hoewel daar die persepsie is dat die sektor floreer, toon die GBB uiterste onbestendigheid. Ander sektore wat ook onder druk is, sluit in vervaardiging, finansiële dienste en mynbou, maar kleinhandel, groothandel en toerisme groei onverpoos.

Schüssler en Ballim sê albei nietemin dat daar geen rede tot paniekerigheid is nie omdat die ekonomiese klimaat van die afgelope twee jaar onvolhoubaar was. Die laer vlakke van groei sal steeds gesond wees en verteenwoordig net 'n verlangsaming in die provinsie se ekonomiese groei, nie 'n ekonomiese afname nie.

Die Gautengse premier, mnr. Mbhazima Shilowa, sê een van die provinsie se sterk punte is sy vermoë om te innoveer, waarvan die barometer die perfekte voorbeeld is. Hy meen dit sal groot waarde inhou vir die private sowel as die openbare sektor.

Vinnige feite
) In 2001 is gemiddeld 11400 eiendomme per maand in Gauteng verkoop. In 2005 het die syfer tot 14000 per maand geklim, en die gemiddeld vir vanjaar staan op slegs 12000.

) In 2002 is 314 miljoen liter petrol per maand in die provinsie verkoop. Dit het in 2005 tot 344 miljoen liter toegeneem.

) In 2000 is totale geboue van net meer as 253000 m² per maand voltooi. Die afgelope 12 maande het die syfer bykans verdubbel tot 497200 m² per maand.

) 39,5% van alle huise wat in 2005 in die land verkoop is, was in Gauteng.
) Die getal advertensies vir werkgeleenthede per maand in Gautengse koerante het van 47000 cm in 2002 tot 65000 cm geklim die afgelope 12 maande.

) Die werkloosheidsyfer in Gauteng is 22,8%, teenoor 30,4% in September 2001.


Publisher: SakeBeeld
Source: SakeBeeld

Please publish modules in offcanvas position.