Elma Kloppers
Suid-Afrikaanse beleggers was gister in hul noppies met die stewige buiging wat Corovest International se Ciref-eiendomsfonds op die alternatiewe beleggingsmark (AIM) van die Londense aandelebeurs gemaak het.
Ciref het teen R17,70 (£1,45) per aandeel genoteer, hoër as die R16,80 wat Suid-Afrikaanse beleggers betaal het voor die notering. Dít gee die fonds 'n markwaarde van R620 miljoen.
Corovest International is die Britse been van die Suid-Afrikaans gesetelde Coronation Investments and Trading en volgens mnr. Mike Watters, uitvoerende hoof van Corovest International, was deelname deur Suid-Afrikaanse beleggers van kritieke belang. "Sowat 60% van die private plasingskapitaal van R350 miljoen kom uit die Suid-Afrikaanse mark en die JSE-genoteerde eiendomsleningseffekte-maatskappy Redefine het 18% verkry." Watters is in die wolke oor Redefine se belegging en die moontlikheid dat hy sy aandeelhouding in die toekoms sal vergroot.
Mnr. Brian Azizollahoff, uitvoerende hoof van Redefine, sê Ciref bied 'n unieke geleentheid vir belegging in 'n eiendomsmaatskappy wat genoteer is op die snelste groeiende juniormark ter wêreld. Ciref se portefeulje van A-graad-eiendomme in Brittanje en Europa is in pas met Redefine se prima eiendomme in goeie gebiede met lang huurkontrakte en keurhuurders, sê hy.
Watters sê die kapitaal wat voor die notering verkry is, sal hoofsaaklik gebruik word om Ciref se kleinhandelportefeulje uit te brei. "Die uitbreiding van die fonds se kleinhandelontwikkeling in Newport, Wallis, tot 51 000 m², is onlangs deur die stadsraad goedgekeur en Debenhams, een van die grootste Britse afdelingswinkels, het 'n langtermyn-huurkontrak onderteken vir 10 000 m²."
Hy noem dat die kleinhandelportefeulje ook deur verkrygings sal groei, hoewel dit 'n moeilike mark is. "£13 miljoen (sowat R160 miljoen) sal gebruik word om 'n nuwe inkopiesentrum in die kusdorpie Margate in Brittanje te verkry, wat reeds ten volle verhuur is." Hy is vol vertroue dat die sentrum teen 'n aanvangsopbrengs van 5,9% 'n opbrengs van 15% aan beleggers sal lewer oor vyf jaar.
Hy sê beplande verkrygings is die boustene om Ciref te help om die teiken van bates ter waarde van R7,4 miljard binne die volgende vyf jaar te bereik. Ciref se huidige eiendomsbates bedra R1,6 miljard.
Hy sê die fonds sal 'n dubbele notering op die JSE oorweeg op middeltermyn, onderworpe aan valutabeheer-goedkeuring. Komende wetgewing vir eiendomsbeleggingstrusts (Reit's) in Brittanje wat in 2007 toegepas sal word, sal 'n soortgelyke noteringsomgewing skep as dié van Suid-Afrika se eiendomseffektetrust-maatskappye (EET's). "Dié parallelle wetgewende raamwerk van Suid-Afrika se EET's en Brittanje se Reit's sal 'n notering vir Ciref op die JSE fasiliteer,"
Publisher: SakeBeeld
Source: SakeBeeld

