Sentrum in Fairland gaan handelsnaam-hemel vir kopers wees

Posted On Monday, 15 May 2006 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
Suid-Afrika se mees revolusionêre kleinhandelontwikkeling van R130 miljoen verrys in Fairland, Johannesburg.

Elma Kloppers

Suid-Afrika se mees revolusionêre kleinhandelontwikkeling van R130 miljoen verrys in Fairland, Johannesburg.

Die World Wear-sentrum van 13 500 m² word deur RAB Eiendomme ontwikkel en sal vir die eerste keer aan Suid-Afrikaanse kopers die wêreld se voorste handelsname in mode, huis-, sportware en restaurante bied.

Die konsep van bekende handelsname onder een dak is in die laat 1980's in die VSA van stapel gestuur, waarna dit in die vroeë 1990's na Europa oorgewaai het.

Danksy die sukses daarvan is besluit om die hoogs sigbare perseel teenaan die N1-hoofweg en Beyers Naudé-rylaan in 'n unieke internasionale kleinhandelbestemming te omskep.

Mode-kleinhandel sal die hoofaanbieding van die sentrum wees en topname soos Hugo Boss, Diesel, Lee Cooper, Levi Strauss and Co, United Colors of Benetton, Ronald Sassoon en Sissy Boy, is maar 'n paar van die internasionale handelsname wat reeds 'n huurkontrak onderteken het.

Bekende plaaslike mode-ontwerpers, soos Sun Goddess, Eboka en Vino, sal ook winkels open, wat die sentrum van 'n eg Suid-Afrikaanse geurtjie sal voorsien. Die sentrum is bykans volverhuur.

Me. Tana Schultze, hoofbestuurder: kleinhandel van RAB, sê die suksesvolle konsep moenie verwar word met 'n waardesentrum nie. "Slegs 20% van die huurders sal afslagwinkels wees."

Sy is vol vertroue dat daar 'n mark in Suid-Afrika vir internasionale handelsname is, veral in die lig daarvan dat sekere van die handelsname voorheen net in die buiteland beskikbaar was. "Suid-Afrikaners is uitgehonger vir groot name in die modebedryf en die dinamiese aanbieding sal groot aftrek kry," sê sy.

Mnr. Rob Coetzee, kleinhandelbatebestuurder van RAB, sê met die ontwerp is wegbeweeg van die tradisionele onderdak-inkopiesentrum.

"Die argitektuur is geskoei op die straatwinkel-tema van Europa in 'n opelug-omgewing. 'n Netwerk van klein pleine en gangetjies sal die verbruiker op 'n inkopie-ekspedisie lei waar verskeidenheid en ontdekking 'n groot rol speel," sê hy.

Een van die hoogtepunte is 'n Seemanns-delikatessewinkel van 680 m². Seemanns, wat tans in Strijdom Park is, het die ontwikkeling geïdentifiseer as die ideale perseel vir sy tweede winkel.

Aan die huiswarefront sal 'n reuse-Mr Price Home van 2 500 m² 'n uitgebreide reeks ware en meubels aan inkopiegangers bied.

Coetzee sê die ontwikkeling is 'n bewys dat Suid-Afrika in pas is met internasionale neigings om te sorg dat die kleinhandelomgewing voortdurend opwindend bly vir die entoesiastiese inkopieganger.

World Wear sal op 27 Oktober vanjaar sy deure open.


Publisher: Sake Beeld
Source: Sake Beeld

Please publish modules in offcanvas position.