SA kommersiële sektor stof buitelanders uit

Posted On Tuesday, 04 April 2006 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
In wat deur kenners as 'n merkwaardige vertoning beskryf word, was die Suid-Afrikaanse kommersiële eiendomsmark verlede jaar vir die derde opeenvolgende jaar die bes presterende sektor ter wêreld.

Elma Kloppers

In wat deur kenners as 'n merkwaardige vertoning beskryf word, was die Suid-Afrikaanse kommersiële eiendomsmark verlede jaar vir die derde opeenvolgende jaar die bes presterende sektor ter wêreld.

Dié prestasie behoort die land se eiendomsektor vierkant op die radarskerm van buitelandse beleggers te plaas.

Volgens die nuutste syfers van die Suid- Afrikaanse eiendomsindeks wat deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Eiendomseienaars (Veesa) in oorleg met die Investment Property Databank (IPD) uitgereik is, het die eiendomsektor verlede jaar 'n rekord- totale opbrengs van 30,1% gelewer, teenoor 23,4% in 2004.

Mnr. Simon Fairchild, direkteur van die IPD in Brittanje, beskryf dit as die sterkste opbrengs in 'n dekade en dubbel die gemiddel van die vier ander lande wat reeds hul resultate bekend gemaak het.

Die reële opbrengs in dié tydperk was 25,8%. Hy sê dit sal moeilik vir enige ander land wees om daarop te verbeter.

"As dié syfers internasionale beleggers nie laat regop sit nie, weet ek nie wat sal nie," sê Fairchild.

Suid-Afrika is gevolg deur Brittanje met 'n totale opbrengs van 19,1%, Kanada met 18,7%, Swede met 12,7% en Nederland met 10,2%.

Die totale opbrengs het grootliks 'n hupstoot gekry deur 'n skerp toename in kapitaalgroei van 11,7% in 2004 tot 18,1%.

Die twee dryfvere vir die verbeterde kapitaalgroei was die stewige netto-inkomstegroei van 9,2%, vergeleke met 8,4% in 2004, en leegstaankoerse wat verder afgeneem het tot 5,3% teenoor die vorige jaar se 7,8% danksy die sterk ekonomie.

Mnr. Stan Garrun, besturende direkteur van IPD SA, sê die groei kan regstreeks toegeskryf word aan maatskaplik- ekonomiese normalisering en bemagtiging wat die sektor op gelyke voet sit met ander beleggings.

Ondanks die opbrengs, skitter groot buitelandse beleggers steeds in hul afwesigheid, maar is hy vol vertroue dat hulle gereed is om in die sektor te belê.

Nywerheidseiendomme het verlede jaar uitgeblink met 'n ongelooflike totale opbrengs van 33,1% teenoor die vorige jaar se 24,4%.

Dié sektor se kapitaalgroei van 18,6% is aangehelp deur verbeterde groei in die netto inkomste.

Soos in die verlede het kleinhandel steeds stewig vertoon met 'n totale opbrengs van 33,0%. Fairchild sê dit is gesteun deur die super- en streekwinkelsentrums, wat 'n totale opbrengs van meer as 30% behaal het.

Kantooreiendom het mooi herstel en 'n totale opbrengs van 24,5% gelewer teenoor die vorige jaar se 16,6%. Kantore het die grootste afname in leegstaansyfers getoon met 'n vermindering van sowat 600 basispunte, wat 'n positiewe uitwerking op die groei in netto inkomste gehad het.

Uit 'n geografiese oogpunt het kleinhandeleiendom in die Wes-Kaap al die ander belangrike markte oortref, met 'n totale opbrengs van 40,7% teenoor 36,5% in 2004. Fairchild skryf dit daaraan toe dat die Wes-Kaap trofee-kleinhandeleiendomme soos die Canal Walk en die V&A Waterfront het.

Garrun sê die resultate weerspieël die groei in die ekonomie en die gunstige rentekoers- en inflasie-omgewing, wat gelei het tot hernieude verbruikersvertroue, robuuste huur- en okkupasiemarkte en gevolglike kapitaalappresiasie.

Die IPD is 'n jaarlikse indeks wat tans verslag doen oor 70% van die Suid-Afrikaanse beleggingseiendomsmark.

Dr. Cees Bruggemans, hoofekonoom van Eerste Nasionale Bank, sê hy is aangenaam verras deur die beduidende momentum wat in die sektor opgebou het. Hy sien geen rede hoekom die partytjie op 'n einde moet kom in die huidige ekonomiese omstandighede waar verbruikersvertroue op nuwe hoogtepunte is nie.

 


Publisher: Sake Beeld
Source: Sake Beeld

Please publish modules in offcanvas position.