Dié belegging van etlike miljarde rande is besig om die demografie van dié eens landelike dorpie dramaties te verander.
Burgersfort lê aan die rand van die Bosveldkompleks in die Groter Tubatse-munisipaliteit wat oor twee provinsies, Limpopo en Mpumalanga, strek. Die gebied is ryk aan platinum en verwante metale en die dorp is sowat 160 km van Nelspruit, 160 km van Middelburg, 160 km van Polokwane en 60 km van Lydenburg.
Die enorme uitbreiding van die dorp volg op groot korporatiewe mynbougroepe soos Impala Platinum, Anglo Platinum en ander se ontwikkeling van verskeie nuwe platinum- en verwante-groepmetaal-myne, onder meer Marula, Modikwa, Twickenham/Hackney/Phachaskraal en Der Brochen/Booysendal in die omgewing.
Minerale wat in die gebied gemyn word, sluit in platinum, chroom, vanadium, silika, magnesiet en andalusiet.
Die bedrywighede het ook die oprigting van 'n nuwe platinumsmelter in Polokwane tot gevolg gehad.
Burgersfort, wat aanvanklik tot stand gekom het as die plaaslike sentrum vir die omliggende plaasgemeenskappe, is sedert 2001 die dorp in die land wat die vinnigste groei. In dié tydperk het die getal geproklameerde erwe van 'n skamele 248 tot 2 300 toegeneem.
Dié bedrywighede beteken 'n lewendige ekonomiese inspuiting vir 'n gebied gekenmerk deur 'n hoë werkloosheidsyfer. Na verwagting sal tussen 16 000 en 22 000 regstreekse nuwe werkgeleenthede tot stand kom in alle inkomste-kategorieë. Daarbenewens sal die dienstebedryf verwant aan mynboubedrywighede 'n noemenswaardige getal bykomende werkgeleenthede skep.
Na raming is die totale middel- tot hoëinkomste-huisvestingsbehoeftes vir die uitbreiding van mynboubedrywighede in die gebied tussen 5 000 en 7 500 eiendomme tot 2010. Dit sal die dorp se bevolking van 13 389 tot sowat 24 000 opstoot. Die meeste mynbougroepe het aangedui dat die nuwe residensiële ontwikkelings met die bestaande dorpgebied geïntegreer word en nie as afsonderlike entiteite ontwikkel sal word nie.

