Een van die wêreld se swaargewig-eiendomsfondsbestuurders steek sy voelers na die genoteerde eiendomsektor in Suid-Afrika uit.
Elma Kloppers
Een van die wêreld se swaargewig-eiendomsfondsbestuurders steek sy voelers na die genoteerde eiendomsektor in Suid-Afrika uit.
Hoewel dié sektor 'n druppel aan die emmer van die internasionale genoteerde mark is, kan 'n belegging deur die Nomura-groep die eiendomsektor in 'n nuwe liga plaas.
Nomura, 'n Japanse finansiële- dienstegroep met volfiliale in die VSA, Europa en die Asiaties-Pasifiese-streek, was onlangs in die land om die potensiaal van die Suid-Afrikaanse genoteerde eiendomsektor te ontgin met die oog op 'n moontlike belegging. Dié belangstelling weerspieël vertroue in Suid-Afrika en die land se groeiende ekonomie.
Mnr. Norbert Sasse, uitvoerende hoof van Growthpoint Properties, sê internasionale fondsbestuurders fokus hoofsaaklik op eiendomsmaatskappye in Suid- Afrika met die grootste likiditeit en markkapitalisasie. Growthpoint, met 'n markkapitalisasie van R7 miljard, is Suid-Afrika se grootste genoteerde groep, gevolg deur Grayprop met 'n markkapitalisasie van R5 miljard.
Gewoonlik bedra die minimum belegging waarna die buitelandse maatskappye in 'n ontwikkelende land kyk tussen $20 miljoen en $30 miljoen.
Hy sê internasionale beleggers stel belang in die sektor in Suid- Afrika omdat dit 'n aantreklike belegging in 'n ontwikkelende mark is en 'n bestendige inkomstestroom lewer.
'n Belegging in genoteerde eiendom se opbrengs is tweevoudig. Aan die een kant trek beleggers voordeel uit die opbrengs, die jaarlikse inkomste wat as 'n persentasie van die markprys van die belegging uitgedruk word, en aan die ander kant die kapitaalgroei in die waarde van eenhede.
Sasse meen die Suid-Afrikaanse genoteerde eiendomsektor hou enorme groeipotensiaal in. Dié sektor het die afgelope ses jaar van krag tot krag gegaan en sy markkapitalisasie het van R5 miljard in 1999 geklim tot die huidige sowat R51 miljard. Gevolglik het die verhandelbaarheid van eenhede merkbaar verbeter.
Hy sê die bates van sowat R50 miljard van dié sektor beloop minder as 30% van die beskikbare beleggingseiendom in die land. "In Australië behels die genoteerde sektor tussen 60% en 80% van die beskikbare beleggingseiendom." Hy skat die totale waarde van kommersiële eiendom in Suid-Afrika op tussen R300 miljard en R350 miljard, waarvan 25% genoteer is.
Die kapitalisasie van die genoteerde eiendomsektor sal na verwagting toeneem deur nuwe noterings, die ontstaan van spesialisfondse en verdere verkrygings deur fondse en maatskappye.
Sasse waarsku dat die buitelandse beleggings nie sonder risiko is nie. Beleggings in genoteerde eiendom is 'n maklike weg om toegang tot 'n land se eiendomsektor te kry. So vinnig as wat buitelandse fondse tot die mark kan toetree, kan hulle hul weer onttrek.
Publisher: SakeBeeld
Source: SakeBeeld

