Vraag hoër na handelseiendom

Posted On Tuesday, 25 October 2005 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
Die huurvooruitsigte vir die kommersiële eiendomsektor lyk belowend met stewige nasionale groei in die gemid delde bruto huurgeld wat gevra word in kleinhandel-, nywerheids- en kantoormarkte.

Elma Kloppers

Die huurvooruitsigte vir die kommersiële eiendomsektor lyk belowend met stewige nasionale groei in die gemid delde bruto huurgeld wat gevra word in kleinhandel-, nywerheids- en kantoormarkte.

Die nuutste huurbarometer van die eiendomsportaal eProp toon dat kleinhandelhuurgroei jaarliks teen 5% toeneem, vergeleke met kantoorhuurgroei wat teen 6% styg en nywerheidshuur teen 10%. Dié syfers is gewoonlik 'n voorloper van die huurgeld wat behaal word, sê mnr. Marc Schneider, navorsingsdirekteur van eProp.

Hy noem dat dit uit dié syfers duidelik is dat die vooruitsigte vir huurgroei in die kleinhandelmark kleiner is as vir die kantoor- en nywerheidsmark.

Die kleinhandelmark, wat die afgelope paar jaar die liefling van die eiendomsbedryf was met die beste huuropbrengs per m2, is besig om ryp te raak.

Inkopiesentrums het wyd en syd opgeskiet in reaksie op stewige verbruikersbesteding en van Januarie tot Augustus vanjaar is die sterkste nasionale aanbod die afgelope vyf jaar in dié sektor ervaar, sê Schneider.

In dié tydperk is kleinhandelruimte van sowat 190 000 m2 voltooi, terwyl nog 709 000 m2 in dieselfde tydperk beplan is, wat die sektor onder druk kan plaas.

Wat die kantoorsektor betref, toon die groeisyfer dat dié sektor, waaroor al kwaai gedebatteer is, besig is om 'n moeilike paar jaar agter die blad te sit.

Schneider sê die leegstaansyfer in die sektor is tans op sy laagste vlak sedert 2000, met Pretoria aan die voorpunt onder die gedesentraliseerde gebiede. Pretoria se leegstaansyfer beloop 3%, Kaapstad 4,5%, Durban 8% en Johannesburg 11%.

Die Wes-Kaap het die sterkste opwaartse kurwe in huurgroei ervaar met groei van 21%, wat 'n positiewe opname van kantoorruimte weerspieël. Schneider sê van Januarie tot Augustus vanjaar het die Wes-Kaap kantoorruimte van 194 272 m2 bygekry, teenoor 26 000 m2 in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Hy beskou die streek as die beste voorbeeld van hoe vinnig die mark kan beweeg van 'n vraag- na 'n aanbodmark.

In die lig van die huidige groei in huursyfers glo hy bestaande eienaars van kantooreiendom kan breed glimlag.

Ten opsigte van nywerheidseiendom toon Gauteng tans die beste relatiewe huurgroei.

Volgens Schneider weerspieël die nywerheidsektor die ruggraat van die ekonomie en het die sektor baat gevind by die bloeitydperk in verbruikersbesteding.

Huurgeld wissel van tussen R25 per m2 en R30 per m2, maar R40 per m2 word ook in sommige nywerheidsparke behaal.

Aan die leweringskant is 377 000 m2 se nywerheidsruimte van Januarie tot Julie vanjaar nasionaal voltooi, teenoor 301 000 m2 in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Schneider sê die nywerheidseiendomsektor is nie 'n spekulatiewe mark nie, vandaar die relatiewe konsekwente lewering. Nywerheidseiendom word opgerig wanneer daar 'n vraag is, wat die druk van 'n ooraanbod beperk.

"Die algemene vooruitsigte vir huurgroei weerspieël beduidende vertroue in al die eiendomsmarkte en huur sal styg in die res van die jaar," sê hy.


Publisher: Sake Beeld
Source: Sake Beeld

Please publish modules in offcanvas position.