Jul 11 2005 11:08:43:850PM
Danksy 'n stroom beleggings in eiendom is die Johannesburgse middestad stadig, maar seker besig om soos die mitologiese feniks uit die as te verrys.
Elma Kloppers
Danksy 'n stroom beleggings in eiendom is die Johannesburgse middestad stadig, maar seker besig om soos die mitologiese feniks uit die as te verrys.
Die afgelope paar jaar se beleggings van meer as R1 miljard in die stad deur private beleggers, korporatiewe instellings en die regering weerspieël hernieude sakevertroue en beloof om Johannesburg sy vlerke terug te gee wat met die groot korporatiewe uittog in die 1980's geknip is.
In die nuutste transaksie het die versekeringsreus Ou Mutual twee van sy art deco-erfenisgeboue aan die ontwikkelingsmaatskappy Urban Ocean verkoop. Die bedrag is nie bekend gemaak nie.
Dié eiendomme, die ou CNA-gebou op die hoek van Rissik- en Commissionerstraat en Shakespeare House in Commissionerstraat, sal gevolglik 'n tweede asem kry ná jare van verwaarlosing.
Mnr. Alfonso Botha, direkteur van Urban Ocean, glo deur erfenisse te restoureer terwyl hul geskiedkundige fasades behou word, kry sogenaamde "dooie plekke" in die stad weer nuwe lewe.
Hoewel hy nie spesifiek wou uitwy oor die planne vir die projek nie, sê hy daar word tans gekyk na die idee om die geboue te ontwikkel vir gemengde gebruik.
Volgens Botha is Ou Mutual besig om danksy die visie van mnr. Ben Kodisang, nuwe besturende direkteur van Ou Mutual Eiendomme, die toekoms van sy middestad-eiendomme te heroorweeg in ooreenstemming met die hernuwingsproses.
Ou Mutual is reeds betrokke by die omskakeling van kantoorgeboue in residensiële ontwikkelings en die Plaza-projek, 'n gesamentlike onderneming tussen Ou Mutual en City Poperty Administration, sal volgende jaar voltooi wees.
Kodisang glo die projek sal die herlewingsproses bespoedig en ook bydra tot die vele attraksies van die middestad.
Urban Ocean het homself al gevestig as 'n ontwikkelingsmaatskappy wat geskiedkundige geboue suksesvol omgeskakel het in luukse residensiële huisvesting.
Die maatskappy fokus sterk op geboue met 'n geskiedenis, wat volgens Botha bydra tot 'n ouwêreldse en tegelyker tyd moderne elegansie in al hul projekte.
Die herlewing van die middestad is van stapel gestuur deur die regering se Blue IQ-projek en inisatiewe van die Johannesburg Development Agency (JDA) en die Johannesburg Property Company (JPC).
Onder die groot korporasies, wat miljoene aan opgradering - en verbeteringsinisiatiewe bestee het, tel Anglo American, Standard Bank, Absa, BHP Billiton en AngloGold Ashanti.
Die bekendmaking van die goudprodusent se planne vroeër verlede week om die geskiedkundige Turbine Hall-perseel sy permanente tuiste te maak, dien as verdere stukrag vir vernuwing.
Die Tiber-groep gaan sowat R200 miljoen bestee aan die restourasie van die Turbine Hall asook 'n by- komende nuwe kantoorgebou.
Tans beloop die regering se belegging in die Johannesburgse middestad sowat R200 miljoen.
Mnr. Errol Smith, woordvoerder van Absa, sê die groep het in die afgelope vyf jaar R450 miljoen aan die uitbreiding van sy noord-torings bestee en 'n verdere R33 miljoen aan 'n nuwe parkade.
Absa was ook betrokke by die maat s kaplike behuisingsprojekte Brickfields en Elangeni. "Absa het nog altyd vertroue in die middestad en sy toekoms as sakespilpunt gehad," sê Smith.
Publisher: Sake Beeld
Source: Sake Beeld

