Melrose Arch-koop val plat

Posted On Thursday, 18 November 2004 02:00 Published by
Rate this item
(0 votes)
Verskeie van Suid-Afrika se grootste eiendomsgroepe het hul visier opnuut op die gesogte Melrose Arch gestel

Nov 17 2004 06:37:38:660AM

Elma Kloppers

Verskeie van Suid-Afrika se grootste eiendomsgroepe het hul visier opnuut op die gesogte Melrose Arch gestel nadat dit aan die lig gekom het dat die verkoop van dié Johannesburgse werk-, woon- en kuierplek deur die mat geval het.

Verskeie van Suid-Afrika se grootste eiendomsgroepe het hul visier opnuut op die gesogte Melrose Arch gestel nadat dit aan die lig gekom het dat die verkoop van dié Johannesburgse werk-, woon- en kuierplek deur die mat geval het.

Melrose Arch is in Februarie in groot geheimhouding deur die eiendomskonsortium Atlantic Corporate Finance (ACF) vir R1,27 miljard verkry - ná 'n tenderproses van drie maande.

Mnr. Eric Visser, uitvoerende hoof van die Sentinel-mynbedryf- aftreefonds, eienaar van die Melrose Arch-leefstylkompleks, het gister aan Sake bevestig dat dié transaksie van die baan is. Hy wou nie sê of dit weer te koop is nie.

Mnr. Gerald Nelson, uitvoerende hoof van die genoteerde eiendomseffektetrustmaatskappy Sycom, een van die vorige bieërs, het gister gesê sy maatskappy stel steeds belang om Melrose Arch te verkry as dit op die mark sou kom. Hy het egter beklemtoon dat hulle nie bereid is om weer deur dieselfde bodproses te gaan nie omdat dit vol gebreke was.

Mnr. Norbert Sasse, uitvoerende hoof van die genoteerde Growthpoint Properties, het laat blyk dat dié groep ook sou belang stel om dit te koop.

Mnr. Nick Corbishly, wat betrokke is by verkrygings en beleggings in die Cavalleros-eiendomsgroep, sê dié maatskappy, wat die naasbeste bieër in die vorige bodproses was, stel steeds belang. Cavalleros was gereeld in kontak met die aftreefonds sedert die tender toegestaan is aan ACF, en sy bod is steeds relevant.

Hy meen dis belangrik om die volgende kommersiële fase van die ontwikkeling te voltooi, wat 'n mengsel van kantore en kleinhandel sal insluit, vir die ontwikkeling om tot sy volle reg te kom. Dit is nie bekend wat Cavalleros se aanvanklike bod was nie.

Die transaksie is gekelder omdat ACF blykbaar nie daarin kon slaag om met waarborge vir die koopsom vorendag te kom nie. Die keerdatum vir die lewering van waarborge was glo 5 Julie.

Rolspelers in die mark is nie verbaas nie omdat die transaksie van meet af aan omstrede was.

Met die bekendmaking van die nuus was die mark verstom dat die bod, wat glo aansienlik hoër was as die ander, toegestaan is aan 'n onbekende buiteperd in die relatief klein Suid-Afrikaanse kommersiële mark.

Te midde van groot spekulasie oor die geloofwaardigheid van die transaksie, het mnr. Colin Barnard van ACF Sake in Junie vanjaar verseker dat die transaksie deur die Mededingingskommissie goedgekeur is en dat die transaksievoorwaardes nagekom word. Nie hy of mnr. André le Roux, ook van ACF, kon gister vir kommentaar bereik word nie.


Publisher: Sake Beeld
Source: Sake Beeld

Please publish modules in offcanvas position.