Woensdag 12 Mei 2004 bl. 2Beeld
Johannesburg Finaal
Sake Beeld
Elma Kloppers
Die Johannesburgse middestad het meer as 90 geboue wat vir die nageslag bewaar behoort te word.
Dit blyk uit 'n deeglike en omvattende erfenispeiling deur die konsultant-span en egpaar dr. Johann en mev. Catharina Bruwer, waarvan die verslag oor die tweede fase pas aan die Johannesburgse metropolitaanse raad voorgelê is.
Dat die raad die peiling laat doen het, dui op sy erns om erfenisgeboue te bewaar, sê dr. Bruwer. Hy hoop dat die neiging in Johannesburg om elke 25 jaar geboue te sloop daardeur beëindig sal word.
"Bewaring net om te bewaar is nie lewensvatbaar nie. Dit gaan om 'n suksesvolle huwelik tussen die gevestigede oue - en vooruitgang en ontwikkeling."
Die Bruwers se verslag van 1 008 bladsye dek 33 blokke in die middestad - 23 blokke begrens deur Diagonal-, Pritchard-, Eloff- en Breestraat, drie blokke tussen Joubert-, Commissioner-, Eloff- en Pritchardstraat en sewe blokke tussen Ferreira-, Fox-, Eloff- en Commissionerstraat.
Van die 123 geboue is 56 ouer as 60 jaar. Hulle val onder die beskerming van die provinsiale erfenishulpbronowerheid.
Twee geboue het spesiale bewaringstatus -- die Cuthberts-gebou op die hoek van Eloff- en Pritchardstraat, wat in 1986 tot nasionale gedenkwaadigheid verklaar is, en die Ansteys-gebou op die hoek van Joubert- en Jeppestraat, wat in 1994 dieselfde status gekry het.
Die eerste fase van die erfenispeiling, wat in 2002 voltooi is, het sowat 75 geboue rondom die markplein behels. Die twee fases saam is die omvattendste studie nóg van Johannesburg se argitektoniese geskiedenis.
Elke gebou is op grond van sy argitektoniese, kulturele, politieke en historiese waarde beoordeel. Sy algemene toestand is in ag geneem, asook sy straatfasade en hoe hy staan in verhouding tot ander geboue in die omgewing.
Volgens Bruwer is daar ook post-modernistiese geboue wat, hoewel hulle nie ouer as 60 jaar is nie, bewaringswaarde het. Ook oor hulle word aanbevelings gedoen.
"Daar kan nou pro-aktief op grond van die verslag opgetree word om die gebou-eienaars te oorreed om na die bewaringstatus van hul geboue om te sien," sê hy.
Bruwer hoop dat die erfenispeiling nie net as 'n belangrike verwysing kan dien nie, maar ook as 'n erfenisbewaringsinstrument.
"Dit is van kernbelang dat eienaars bewus gemaak word van die 60-jaar-beskermingswetgewing en dat enige veranderings, selfs kosmetiese restourasiewerk, met die verlof en kundigheid van die provinsiale erfenishulpbronowerheid geskied."
'n Groot bron van kommer is die ongeoorloofde en onwettige veranderings wat reeds aan historiese geboue aangebring is.
Die Union Club-gebou in Breestraat se sandsteen op die grondverdieping is byvoorbeeld geverf. Dit het die oorspronklike karakter van die enigste Herbert Baker-gebou in die middestad vernietig.
Elma Kloppers
Sake Beeld
(011) 713-9292
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Publisher: Sake Beeld
Source: Elma Kloppers

